Javascript DHTML Drop Down Menu Powered by dhtml-menu-builder.com

 

 

 

 

 

 

 

 


News/Nuus
POBC-krieket: Die begin van ’n nuwe era

POBC SpanneOp Saterdag 9 Mei het die mooiste herfsdag die Paarl begroet en dit was toe reeds al ’n aanduiding dat ’n baie spesiale dag voorlê.

Ná vier jaar van planne beraam en organisering het die heel eerste Paarl Old Boys’ Classic (POBC) krieketwedstryd eindelik tussen die “ou manne” van Paarl Gimnasium en HJS plaasgevind.

Dié geskiedkundige wedstryd is gespeel op die skilderagtige HJS-veld met sy Engelse plattelandse atmosfeer, met ’n groot opkoms van lojale ondersters wat sommer van die begin af hul spanne ywerig toegejuig het.

Gim het die loot gewen en HJS ingestuur om te kolf. Die spelers was slaggereed om hul jeugjare weer op die krieketveld te herleef – dit was weer tyd vir spangeesbou, strekoefeninge en om die paaltjies te laat spat!

Dit wat die span ontbreek het aan vinnige enkellopies is opgemaak met grenshoue en HJS eindig met ’n skaflike 152 na 20 beurte.

Ná die “Deep Heat” vir ou laas weer goed ingesmeer is en nóg strekoefeninge was dit tyd vir HJS om te boul en aan te meld vir die gevreese veldwerk. Met ’n boulaanloop van net vyf meter lank, het die boulers hulle knap van hul taak gekwyt. Weens ’n gebrek aan vaart maak die veldwerkers egter hier en daar ’n paar blapse.

Soos in die ou dae word dié kragmeting ’n riller van ’n wedstryd. Gim benodig 12 van 18, 7 van 12 en 3 van 6 om HJS die loef af te steek. Die laaste beurt lewer egter net drie balle met geen lopies wat bykom nie en teen daardie tyd is al die gespanne ondersteuners al op hul voete luidkeels besig om hul spanne aan te moedig.

Die HJS-spelers trek laer in die sirkel om te probeer verhoed dat enige lopies aangeteken word. Gim-kolwer en HJS-bouler gluur mekaar aan, maar kort daarna is dit Gim se oorwinning toe die kolwer die bal verby die paaltjiewagter “nick” vir ’n vier.
Met die spanning verby glimlag almal weer en skud blad. Na afloop van die wedstryd braai almal saam en hegte bande word hernu en gesmee. In die woorde van Tom Engela: “And a good was had by all.”

Die POBC bedank almal wat by die organisering betrokke was, veral Derek Swart, Andrew Bretherton en Kelvin Willemse.

Hierdie was ook geensins ‘n eenmalige gebeurtenis nie en planne is reeds in plek om die Old Boys-krieketwedstryd ’n jaarlikse instelling te maak.

Vir meer inligting oor die HJS Old Boys krieketspan, kontak Conradie Burger at 082 552 3975 or conradie@polka.co.za or Jacques Krynauw at 083 324 8984 or krynauw@jvds.co.za.

 

Back to home


boishaai paarlboysprimary