LATEST NEWS

Biographical Dictionary – 140 years – “WHO’S WHO: 1868-2008.”

Downloads
Die Galpil
 
 
  KOMITEE | COMMITTEE
HJS OSU - BESTUUR VIR 2009
[*verkies op AJV - 23 Aug 2007 herkies by AJV 21 Aug 2008]

 
 


GRONDWET VAN DIE HJS OSU
[voorgestelde veranderinge]

Ons, die oudstudente van die Hoër Jongensskool, Paarl, is begerig om ‘n liggaam met voordurende bestaansreg te vorm en daarin te verenig ten einde die Naam en Faam van ons Alma Mater te bevorder en sy belange op ons harte te dra.

1. NAAM:

Die naam van die unie is “Die Oudstudente-Unie van die H.J.S. Paarl” (“die OSU”, “die Unie”).

2. DOELSTELLINGS:

2.1 Om die skool in sy ondernemings te ondersteun.

2.2 Om die skool behulpsaam te wees met fondsinsameling.

2.3 Om jaarliks ‘n prys aan beide skole beskikbaar te stel vir oorhandiging by die prysuitdeling. Die prys aan HJS staan bekend as die O.S.U.-beker vir die Olimpiese Ideaal en word vergesel van ‘n geldprys. Die sitaat wat voorgelees word, is: “Die ideaal wat hier nagestreef word, is die Olimpiese Ideaal, naamlik dat dit belangriker is om deel te neem as om te wen. Dit is een van die skool se mees gesogte toekennings, juis omdat dit gaan om ‘n positiewe benadering en lewensbeskouing.” Die prys aan Primêre Seunsskool (“die PSS”) is geoormerk vir die toekenning van die Dux-medalje.

3 LIDMAATSKAP

3.1 Gewone Lede:

3.1.1 Oud-leerlinge: ‘n Persoon wat minstens een jaar ‘n leerling aan die hoërskool was, sal, na betaling van ledegeld, die status van ‘n gewone lid mag geniet. Die geval van ’n persoon wat die laerskool bygewoon het, en om lidmaatskap aansoek doen, sal vir oorweging aan die bestuur vir ‘n beslissing voorgelê word.

3.1.2 Hoofseuns: Alle oud-hoofseuns van die H.J.S. word outomaties lewenslange gewone lede van die Unie.

3.1.3 Skoolhoofde: Skoolhoofde van beide skole word by aftrede met pensioen outomaties lewenslange gewone lede.

3.2 Ere-lede: Lewenslange ere-lidmaatskap van die Unie kan, na benoeming van die bestuur, en goedkeuring deur die Algemene Jaarvergadering, jaarliks aan hoogstens twee persone toegewys word. Die genoemde status word aan persone toegeken wat nie bevoorreg was met die bywoning van een van die twee skole nie, en ten spyte hiervan, diens van ‘n besondere aard aan enige komponent van die skoolfamilie gelewer het. In verdienstelike gevalle mag oud-leerlinge langs dieselfde weg op hierdie wyse vereer word. Ere-lede geniet al die regte en voorregte van gewone lede.

3.3 Ex Officio lede:

1. Dienende skoolhoofde: Die twee skoolhoofde geniet ex officio status as ere-presidente van die Unie.

2. Onderwysers: Alle dienende onderwysers van beide skole geniet na een jaar ononderbroke diens outomaties gewone lidmaatskap, maar sonder stemreg. Indien ‘n onderwyser die skool verlaat voor ‘n dienstermyn van 10 jaar, sal die genoemde status voortgesit kan word na betaling van die heersende ledegeld. Na ‘n dienstermyn van 10 jaar geniet ‘n onderwyser outomaties gewone lidmaatskap met volle stemreg.

Geassosieerde lede

Ouers en vriende van die skool, wat nie andersins lidmaatskap van die OSU kan bekom nie, kwalifiseer om geassosieerde lede van die Unie te word.

Vorige lede van die ontbinde Prestige Klub is outomaties lede van die OSU met betaling van jaargelde en staan bekend as Prestige lede van die OSU.

Intreefooie en jaarlikse lidmaatskapfooie sal van tyd-tot-tyd deur die bestuur van die OSU voorgestel word en is betaalbaar voordat lidmaatskap toegeken kan word.

Geassosieerde lede kwalifiseer nie om op die sentrale bestuur van die OSU te dien nie. Hulle mag wel op streekskomitees van die OSU dien en mag gekoöpteer word op ad hoc komitees van die unie.

Geassosieerde lede mag die klere van die Unie dra op dié voorwaarde dat die woorde “ondersteuner” of “geassosieerde lid” daarop aangebring is.

Die bestaande OSU das word behou vir uitlsluitlike gebruik deur oudstudente wat ingeskrewe lede van die OSU is. ‘n Nuwe das, met die OSU wapen en die woorde “ondersteuner” of “geassosieerde lid” daaronder, sal vir geassosieerde lede ontwerp word.

Geassosieerde lede mag die Algemene Jaarvergadering bywoon, maar het nie stemreg nie.

Ledegeld: Soos bepaal deur die bestuur, word die volgende kategorieë betaal:

1. alle oud-leerlinge.

2. alle personeellede wat die skool voor ‘n kwalifiserende dienstermyn van tien jaar verlaat het. - alle geassosieerde lede

3.5 Verbeuring van lidmaatskap

Die bestuur mag ‘n lid se naam sonder terugbetaling van ledegeld van die ledelys skrap op grond van gedrag of optrede wat die goeie naam van die Unie of die skool in gedrang bring.

4. ORGANISASIE EN AKTIWITEITE:

Die aktiwiteite van die Unie sentreer om die funksies van DIE ALGEMENE JAARVERGADERING en DIE BESTUUR VAN DIE UNIE.

Die Algemene Jaarvergadering

4.1.1 Kennisgewing van die Algemene Jaarvergadering sal minstens veertien dae voor die bepaalde datum gegee word. Die Agenda vir die vergadering sal die kennisgewing vergesel. Kennisgewing sal geskied binne ses maande na afsluiting van die boekjaar.

Die aktiwiteite van die Algemene Jaarvergadering omvat o.a.die verkiesing van bestuurslede, die voorlegging van verslae en state van die president, die voorsitter, skoolhoofde en die tesourier, grondwetwysigings (indien enige) en die goedkeuring van lewenslange ere-lede.

4.1.3 Stemreg: Die volgende persone het stemreg by die vergadering: -
Alle kategorieë van gewone lede, en
Alle ere-presidente en lewenslange ere-lede.

4.1.4 Kworum: Een-en-twintig stemgeregtigde lede sal ‘n kworum vorm.

Beslissende Stem: By ‘n staking van stemme sal die voorsitter ‘n beslissende stem hê.
Stemprosedure: Stemming geskied met die opsteek van hande. As die vergadering egter so besluit, kan geslote stembriefies gebruik word.

4.1.7 Verkiesing van ampsdraers:

Die bestuur bestaan uit die volgende:
- President
- Voorsitter
- Onder-voorsitter
- Tesourier
- Hoogstens vier lede deur die verkose bestuur benoem
- Twee ere-presidente Ex Officio HJS en PSS Die bestuur kan gebruik maak van ‘n notulerende sekretaris of ‘n sekretaris vanuit eie geledere verkies.

Die bestuur mag ad hoc komitees saamstel om behulpsaam te wees met die uitvoering van take.

4.1.8 Bepalings insake ampsdraers:

Die President, Voorsitter, Onder-voorsitter en Tesourier word by die Algemene Jaarvergadering verkies, en hulle het die reg om hoogstens 4 addisionele bestuurslede te koöpteer. Al hierdie bestuurslede se ampstermyn is onbeperk solank hulle jaarliks beskikbaar is en verkies of gekoöpteer word.

4.2 DIE BESTUUR VAN DIE UNIE:

4.2.1 Prosedurebepalings:

Daar moet minstens een bestuursvergadering elke twee maande plaasvind.
Vyftig persent (50%) van bestuurslede plus een vorm ‘n kworum.

4.2.1.3 Enige bestuurslid wat sonder kennisgewing afwesig is van twee agtereenvolgende vergaderings, verbeur outomaties sy lidmaatskap as bestuurslid. Die rede vir afwesigheid moet egter vir die bestuur aanvaarbaar wees. Indien nie aanvaarbaar nie, mag ‘n nuwe lid in sy plek gekoöpteer word.

4.2.1.4 Ledegeld: Die bestuur bepaal van tyd tot tyd die ledegeld van die Unie.

Nuusbrief: Die bestuur is verantwoordelik vir die verspreiding van gratis nuusbriewe aan alle lede.
Streekvoorsitters of hul afgevaardigdes mag bestuursvergaderings bywoon, maar het nie stemreg nie.

4.2.2 Die Dagbestuur:

4.2.2.1. Samestelling: Die dagbestuur bestaan uit die President, Voorsitter, Onder-voorsitter en dieTesourier. Enige drie vorm ‘n kworum.

Funksie en Magte: Die dagbestuur het die mag om besluite te neem en op te tree rakende spoedeisende sake van die Unie. Sy besluite en handelinge moet egter by die eersvolgende bestuursvergadering bekragtig word.

Streke

Ten einde aan die doelstellings van die OSU, soos in artikel 2 hierbo omskryf, te voldoen, sal ‘n netwerk van streke plaaslik en in die buiteland tot stand gebring word.
Streke verkies hulle eie bestuur en bedryf hulle eie geldsake.
Die sentrale bestuur sal van tyd tot tyd projekte in belang van die unie of die skool aan streke toeken. Enige projekte wat die streke op eie inisiatief van stapel wil stuur, is onderhewig aan goedkeuring deur die sentrale bestuur.

5. KLEURE:

Die amptelike kleure van die Unie is donkerblou, ligblou en wit.
Die amptelike kleurbaadjie is donkerblou met ‘n OSU-sakwapen.
Die amptelike das is donkerblou met gedrewe OSU-wapens.

6. FINANSIES

Die OSU is by magte om rekeninge te bedryf, beleggings te maak, oortrokke fasiliteite te reël, lenings aan te gaan of ander handelinge uit te voer ten einde te verseker dat die OSU in ‘n gesonde finansiële posisie verkeer.
Geouditeerde finansiële state van die OSU sal jaarliks vir goedkeuring aan die Algemene Jaarvergadering voorgelê word.

7. WYSIGING VAN DIE GRONDWET:

Die grondwet kan alleenlik op ‘n Algemene Jaarvergadering gewysig word.
Twee-derdes van die stemgeregtigde lede wat teenwoordig is, moet die wysiging goedkeur

Kennisgewing van ‘n beoogde wysiging moet lede minstens veertien dae voor die vergadering bereik.

8. ONTBINDING

Indien enige Streek sou ontbind, sal die bestuur van die Unie die besluit bekragtig. Enige bates wat op daardie stadium in die Streek gesetel is, sal aan die sentrale bestuur van die Unie oorgedra word.

In die geval dat dit vir die OSU nodig word om te ontbind, sal ‘n Spesiale Algemene Jaarvergadering belê word om só ‘n stap te bekragtig. Twee-derdes van die stemgeregtigde lede wat teenwoordig is, moet die ontbinding goedkeur.

Enige besluit by so ‘n Spesiale Algemene Jaarvergadering sal bindend wees op die streke en enige bates wat in die streke gesetel is sal deel vorm van enige besluit om verdeling van bates.

By ontbinding van die OSU sal die bates van die unie verdeel word aan die volgende instansies, onderworpe daaraan dat daar aan die vereistes soos bepaal in artikel 30(3)(b)(iii) van die Inkomstebelastingwet nr 58 van 1962 voldoen word:

1. Enige ander liggaam, insluitende ‘n trust of maatskappy, met soortgelyke doelstellings wat ten bate van die HJS en / of die PSS opgerig is;
2. Die Hoër Jongensskool (Paarl);
3. Die Primêre Seunsskool (Paarl);
4. By gebrek aan enige van die instansies in klousule 8.4.1 tot 8.4.3 genoem, enige ander liggaam, insluitende ‘n trust of maatskappy, wat dieselfde doelstellings ten bate van enige ander skool of skole nastreef, of enige ander skool soos omskryf in die SA Skolewet.

Die Spesiale Algemene Jaarvergadering het die bevoegheid om te besluit oor die verhouding waarin bates verdeel sal word ingevolge klousule 8.4, hierbo.